Waar Die Treinspoor Ophou

As die treinspore in die sand verdwyn, weet jy dat jy aangekom het op
Simonstad!




Soveel maal in die verlede, oor die afgelope 42 jaar, het ons as gesin
hierdie lekker treinrit onderneem. Dis toe ek nog aan huis van my ouers
was. Daarna, sowat dertig jaar gelede, het ek en my vroutjie vriende
oortuig om dit saam met ons te doen. Vele treinritte na Simonstad sou
volg. Elke rit bly vars in my geheue. Daarom dat ek dink dat geen mens
die moet misloop nie.


Binnelanders kan gerus die tipe ding aandurf wat ons weer op Sondag, 16
Oktober 2016 gedoen het. Sommer vroeg die oggend was ons op die stasie
en het ons die Day Pass gaan optel. Dagpas? Ons dra pas want ons reis
eersteklas! Met dié slim kaartjie ry jy heeldag lank, soveel jy wil,
waar jy will, wanneer jy wil op die Simonstadlyn. En die lae prys van
R36 (Oktober 2016) bly immergroen. Jy betaal geen bloue duit meer nie.




So klim ons toe mos af by Muizenberg. Of Amuzingberg soos ek my geliefde
ou kusdorpie graag noem. Daar is te veel dinge om te doen, ons gaan weer
hieroor gesels. Ek sal weer 'n draai gaan maak en die drade daar optel.
My jy kan gaan leer branderski, of vis eet, stap op die myle lange
strande af, daar is die Zandvlei waar jy kan gaan braai vir die
dag....te veel om te noem.






Maak soos ons en raak voetvaardig met die netjies gepleisterde betonpaadjie na St James. Dis so 'n outydse myl oftwel 1,6 km ver en selfs geskik vir ouer mense en ander, soos ek, met beperkte mobiliteit. As dit nader is, of verder, gaan dit jou nie pla nie. Dis te mooi daar om te kla.

By St James kan jyvir jou 'n kleurvolle kleedkamertjie huur en gaan baai in die lekkergroot getypoel. Wanneer die Noorkaper-walvisse aandoen, is dit maklik om hulle vanaf die rotse waar te neem, veral regoor die stasie. Hierdie kolosse is baie nuuskierig en hou graag dop wat op land aangaan. Die rotse aan die Kalkbaai-kant van St James is redelik regaf en die see diep, derhalwe swem die walvisse na aan die kus. Noorkapers kry hulle naam van die Noorse Kaap en is nie "noordkappers" soos wat mense op RSG hulle noem nie. Dag ek seg maar net.






Vanaf St James het ons die trein geneem tot op Simonstad, maar langs pad baie foto's geneem want jy sien soms net die see as jy afkyk. Min plekke op aarde bied jou 'n treinrit wat soms soos 'n bootvaart voel. By Simonstad raak die spore weg in die sand en jy gaan later weer daarvandaan terug Kaapstad toe, maar verder is jy aangewese op 'n lekker stap. Neem gerus die motor wat HGTS Tours so gerieflik op die stasie aanbied. John het ons geneem na die Quayside Sentrum, waar ons middagete
by Harbourview Restaurant genuttig het.





Toe eet hierdie Bolander mos iets anders as waterblommetjiebredie! Eers het ons 'n Griekse slaai gedeel met olywe wat so lekker was dat my vrou glad daarvan geëet het! En Deense Fetakaas daarby, lekker sag en romerig. Toe kom die regte kos!



Vir mevroutjie was daar net mooi presies die heel beste stukkie stokvis met calamari. Nou kyk, daardie stokvissie is agterna oor en oor getakseer en so het hy moes kompeteer met Salty Sea Dog naasaan se uitstekende stokvis, of met Lusitiania in Waterkantstraat (Kaapstad se middestad), of met die uithaler-stokvis van Manny De Gouveia se Da Gama Fisheries in Van Rieebeckstraat, Kuilsrivier en selfs met die befaamde twee viswinkels op Worcester, wat landwyd bekends is: Heuwel Vissery en
Lamouette. Na meer as 'n uur het ons besluit dat Harbourview tog die wenner is; die vis is net meer perfek as die ander se perfek. Ag nee, man, nou sit ek in Seepunt en skryf en Simonstad is aan die ander kant van ons geankerde eiland!




Bolander soos ek, Blootvoet daarby, ken toe mos nie vir bok se kind nie. Van sien, ja, ook van sien hoe die geelkatte van die wildtuin hulle plattrek. Maar toe is dit my beurt. Nee, daar was nie leeus nie, maar genoeg vleis om 'n trop gelukkig te hou. My baard is af maar ek speel toe maar maanhaar en eet al te lekker aan die wonderlikste stukkie rooibok daar. En toe wei 'n koedoe homself onder my mes in. Vlakvark het kom kyk en ook nie oorleef nie. Hulle is binnetoe. En baie lekker daarby, veral die rooibokkie. Murgsag, man, maar ek beveel die hele drie aan - Three Game Medallion. Amper by Kaappunt, kan jy dit glo?!




Vir die effense Ingilse kultuurtjie durf my vrouwtjie toe die Apple Crumble aan en dit was heerlik. Maar tradisievaste Afrikanergelowiges hou mos by die bekende; ons eer nie vreemde afgode nie en dus het ek oordadiglik eer betoon aan 'n lekker skep Malvapoeding. Net soos Ma se poering het dit gekom met twee bolle roomys daarby. Maar, Boera, was dit nou vir jou agter die oor!





Geurige koffie, lekker milde Arabica smaak dit my, het die dag se eetverrigtinge formeel afgesluit.


En dis hoe ons Wêreldvoedseldag op Simonstad gaan vier het. Hoe ry die trein, hoe ry die trein, Simonstad se trein! (Askies, Kimberly.)



Toe nou, moenie in Kaapstad kom rondflenter oor Desember en my verkla oor julle nie weet hoe om die dag om te kry nie. As ek nou nog so 'n draai of twee gaan ry het, sal ek beter idees gee van alles tussenin Muizenberg en Vishoek. Daar is nog 'n wêreld om te gaan ontdek!


Metrorail maak dit maklik!

Comments

Popular Posts